Northmec is bekend om werktuie van goeie gehalte vir boorde en wingerde. Weens die koste van nuwe tegnologie is dit moeilik om altyd bekostigbare werktuie aan boere beskikbaar te stel. Northmec het egter met die bekendstelling van die nuwe boordmodeltrekker vanjaar ’n goedkoper model tot sy wye trekkerreeks gevoeg.

Northmec het wêreldwyd gaan soek vir ’n bekostigbaarder werktuig en op ’n trekker afgekom wat ideaal vir Suid-Afrikaanse boere is, en wat koste kan verlaag en produktiwiteit kan verhoog. Die Basak 2080-trekker, ’n 58 kW-model, is Northmec se nuutste toevoeging en het reeds die toets van duursaamheid en betroubaarheid in die Suid-Afrikaanse mark deurstaan. Die Basak 2080-trekker is op die Carraro-ontwerp geskoei. Dit het steeds die Carraro-ewenaar en -transmissie, saam met ’n driesilinder-Perkins-enjin, wat 58 kW beskikbaar stel.

Die trekkers is beskikbaar in ’n kajuit- en ROPS-model (platform met ’n rolstaaf), met ’n 540/540E-kragaftakker en wielspasiëring van 1,34 m. Die trekker is toegerus met 61 cm- of 71 cm-agterbande en ’n 24-gangratkas, wat die kruiprat insluit.

Die kajuit is toegerus met ’n elektroniese lugversorger en koolstoflugfilters vir bykomende veiligheid in situasies waar chemikalieë gebruik word. Die trekker se versieningsintervalle is 300 uur. ’n Standaardwaarborg van twee jaar of 1 000 uur geld. Die trekker is ideaal vir boorde en wingerde. Die sterk kragaftakker, wat sowat 54 kW lewer, maak dit moontlik om groot waaierspuite, kragêe, bossieslaners en swaardienstipe kluitbrekers met gemak te hanteer.

AGTERGROND
Sedert die stigting van Basak in 1914 in Adapazari, Turkye, as ’n yster-/houtmotorvervaardiger, het dit gegroei tot een van die suksesvolste Turkse vervaardigers wat landboutoerusting aan Turkse boere verskaf. Basak Tractor het in 1962 Ford-trekkers van Engeland af ingevoer. Van 1968 af het Basak sowat 65% van die trekkers self vervaardig, danksy ’n ooreenkoms met Ford. Nadat ’n ooreenkoms in 1976 tussen Basak Tractor en die Oostenryks maatskappy Steyr gesluit is, is Basak-trekkers vir Steyr vervaardig. Dit het tot 1996 as Basak-trekkers bekend gestaan.

Daarna het die maatskappy die Steyr-handelsmerk op die werktuie aangebring, en die trekkers in lisensie vir Steyr vervaardig. Basak Tractor het in 2012 by die Sanko-groep aangesluit. Die fabriek in Sakarya Turkye beslaan 40 000 m², met ’n oop monteringsaanleg van
275 000 m². Met die vermoë om 10 000 trekkers per jaar te lewer, word die enjins, ewenaars, ratkaste en hidrouliese stelsels in die
aanleg vervaardig. Basak Tractor vervaardig meer as 20 modelle, wat wissel van 26 kW tot 89 kW. Alle modelle is in 2×4- of 4×4-aandrywing beskikbaar. Die trekkers is bekend om hul produktiwiteit en doeltreffende brandstofverbruik. Boonop is die onderhoudskoste op hierdie bekostigbare trekkers baie laag.

.