Soos die tegnologie en wetenskap verander, verander boere se behoeftes ook saam met die manier waarop hulle hul boerdery benader en met spesifieke handelsmerke assosieer.

Min meganisasieverskaffers in die plaaslike landboubedryf besef dit beter as Northmec Implemente, wat deurlopend die voortou neem met vernuwing deur altyd wêreldbekende handelsmerke met die nuutste tegnologie beskikbaar te stel.

Baldan-werktuie, afkomstig van Brasilië, is een van dié unieke handelsmerke wat al langer as 30 jaar deur Northmec in Suider-Afrika versprei word.

Baldan vier vanjaar sy 90ste bestaansjaar. Wat op 4 Januarie 1928 in die dorpie Matao as ’n ploegvervaardiger begin het, is vandag een van die wêreld se bekendste handelsmerke vir grondbewerkingstoerusting.

VERNUWING

Naas ’n professionele bestuursbenadering, het Baldan in 2010 ook sy eie vervaardigingstelsel, SBM, ontwikkel. Dié stelsels het Baldan in staat gestel om klem te plaas op klante se spesifieke behoeftes en werktuie so doeltreffend moontlik te vervaardig.

Terselfdertyd is besluit om die welbekende Baldan-handelsmerk te vernuwe sonder om die kernfokus en belangrike tradisies agterweë te laat. Die waardes van die handelsmerk word vasgevang in die Baldan-naam wat alombekend is vir die robuustheid van sy produkte. Die vis, as simbool van egtheid, bly teenwoordig om ’n unieke gevoel aan die handelsmerk te gee.

SUIKERRIET

Vernuwende produkte is nog ’n bewys van Baldan se toewyding tot groei en ontwikkeling. ’n Goeie voorbeeld daarvan is toevoegings tot Baldan se omvattende reeks werktuie vir grondbewerking en kunsmistoediening vir suikerriet.

Brasilië is een van die wêreld se grootste verbouers van suikerriet en dus is Baldan al dekades lank op dié mark toegespits.

Verskeie werktuie is in die uitgebreide reeks beskikbaar: Suikerrietwerktuie wat vore trek en kunsmis gelyktydig plaas, werktuie wat die vore toemaak, en kombinasie-tandwerktuie wat gelyktydig die grond diep losmaak, kunsmis toedien en skoffel.

STROOIERS

Nog ’n nuwe toevoeging tot Baldan se reeks is die sleeptipe Fertiliza 12000 kunsmis-en-kalkstrooier. Hierdie werktuig strooi kunsmis met gemak tot 36 m wyd en kalk tot 14 m ver.

Die massabak en ander dele wat moontlik met kunsmis in kontak kan kom, is van vlekvrye staal vervaardig om die werktuig se gebruiksduur noemenswaardig te verleng. Omdat dit ’n presisiestrooier is, word ’n swaardiens-rubbervervoerband gebruik om die materiaal egalig van voor na agter op die strooiborde te vervoer. Dit verseker die beste resultate omdat daar nie kettings is wat onegalig voer nie. Seksiebeheer kan ook toegepas word.

KONTRA-SNYEGREEKS

Moenie vergeet van die volledige reeks Baldan kontra-snyêe (offset disc harrows )wataljarelank die plaaslike markleier is nie.

Beproefde eienskappe, soos die duursaamheid van geseëlde laers en die ekstraswaardiens konstruksie, het sonder twyfel tot hierdie trotse prestasie bygedra. Danksy verskillende werkdieptes, wydtes, skottelgroottes en skottelspasiëring is daar ’n snyeg vir alle toepassings en trekkers van enige grootte.

.